Sondag ~ 26 Mei 2019

Dit is Sondag. ‘n Dag van net rustig wees en Gilmore Girls kyk op Netflix. Dit is ook amper twee weke na my operasie en ek is goed oppad na herstel, iets wat nie eintlik so maklik was soos wat ek eers gedink het sal wees nie. Stel dit so, ek voel heelwat beter as wat ek ‘n week gevoel het nadat ek vir dae aaneen op onsoliede kos geleef het en baie geslaap het as gevolg van die swaar medikasie.

Die aand van die operasie was ek ontslaan en my ouers het my huistoe geneem en vir my gesorg. Ek was baie moeg as gevolg van die verdowingsmiddel en al wat ek wou gedoen het was om in die bed te klim. In die bed het ek my foon uitgehaal en Gilmore Girls gekyk. Vir een of ander rede kon ek glad nie daardie aand slaap nie.

Donderdag en Vrydag het ek aanhoudend geslaap en het gedurig moeg gevoel, met my Ma wat die yspak vol ys gemaak het om die swelsel om my gesig te laat sak en die ongemaklikheid ligter te maak. Ek het nie juis baie pyn gehad na die operasie nie, maar ek kon voel my liggaam het ‘n bietjie van ‘n knou weg juis omdat dit basies my eerste keer was dat ek ‘n operasie ondergaan het.

Saterdag het ek baie siek gevoel weens die medikasie en was omtrent die hele dag in die bed. Ek het baie water gedrink om die naarheid te verlig en myself van die een stel pynpille afgehaal want al wat dit goed gedoen het was om my heeltyd te laat slaap. Ek hou van slaap maar nie die hele tyd nie. Sondag was basies dieselfde gewees, maar ek het ‘n bietjie meer rondbeweeg en ‘n bietjie op my skootrekenaar gewerk. Daarna was ek moeg en het dinge weer rustig geneem.

Maandag en Dinsdag het ek baie beter gevoel, met Dinsdag wat ‘n opvolgbesoek aan die dokter gelewer het. Ek het mer soliede kossoorte geëet soos pasta wat my gunsteling is. Ek het Woensdag, ‘n week na my operasie, dinge maar rustig gevat en ‘n paar films gekyk voor ek Donderdag teruggegaan werk toe.

My herstelpad was moeilik gewees omdat ek te gou, te veel verwag het in plaas daarvan om dit net dag vir dag te vat. Dit is anders vir elke liewe mens. Ek is net dankbaar dat die operasie verby is, al was die herstelproses nie so maklik vir my was nie. En ek is ook dankbaar dat ek meer soliede kos kan eet want my gewig het ook daaronder gely. En boonop het ek my koffie gemis.

Dinge sal van nou af net makliker gaan. Ek hoop so.

Advertisements

Sondag, 12 Mei 2019

Dit is ‘n nuwe inskrywing in ‘n PDF formaat.

Geniet dit en geniet die res van Moedersdag.

Baie Liefde, Yolandi

 

joernaal-12-mei-2019

Dinsdag ~ 7 Mei 2019

Vanoggend, soos met byna elke oggend, gaan ek deur my klerekas en weet nie wat ek gaan aantrek vir werk nie, veral nie dié tyd van die jaar wanneer die weer of warm of koud is nie. Dit is koud in die oggende, nog kouer in die aande, maar deur die loop van die dag is die weer mooi en redelik warm. So ek weet nie hoe om aan te trek nie.

Dit is amper ‘n goeie vergelyking met môre se verkiesing. Ons almal het 48 partye om voor te stem, maar van ons weet nie om wie voor te stem nie. Wel, dit is soos ek ook want dit is nou ‘n bietjie meer as 24 uur voor ek my kruisie trek en ek weet nie vir wie ek moet stem nie. Die regerende party is nie ‘n opsie nie.

Moet ek stem wat my hart vir my sê of moet ek stem wat my kop vir my sê? Watter politieke party gaan hard werk om ‘n groot verskil te maak in Suid-Afrika? Die feit is ek woon in die Weskaap en hier moet ons basies ons kruisies maak om die regerende party uit die provinsie te hou. Dit maak dit ook nie maklik nie.

Tyd sal leer môre vir wie ek gaan stem. En hopelik die party wie ek voor gaan stem gaan daardie verskil maak in Suid~Afrikaners se lewens en by hul beloftes hou.

Dinsdag ~ 23 April 2019

Paasnaweek is verby en dit was net wat ek nodig gehad het om my batterye te herlaai, tesame met familie wat kom kuier het.

Dit was baie aangenaam gewees en rustig. Met ek wat omtrent heeldag dinge baie rustig gevat het met ‘n lekker leesboek, flieks, Netflix en verbasend baie slaap. Met baie koffie en paaseiers as ‘n bonus

Nou is dit skouer aan die wiel tot die volgende naweek toe. Dan het ek weer die kans om my batterye te herlaai.

Sondag ~ 21 April 2019

Goeiemiddag julle almal.

Ek wens julle almal ‘n baie geseënde Paas Sondag toe saam met jul familie. Mag julle ryklik geseën word vandag.

Hier is ‘n inskrywing wat ek vandag geskryf het en weer in ‘n PDF formaat opgelaai het.

Lekker dag verder.

Baie liefde en drukkies,

Yolandi

 

Standaarde